Kloof tussen wit, swart
Mar 10 2008 10:58:34:597PM  - (SA)  

Ek wil ook reageer op dié saak wat dalk aan die einde van 2008 as die mees opspraakwekkende berig van die jaar bekroon sal word. Wat anders as die Reitz-video waardeur meer skade reeds gedoen is as enige ander saak?
Maar anders as die meeste brief- en rubriekskrywers, dink ek die grootste skade is gedoen, nie deur die video self nie, maar juis deur die berigte en gerugte wat die wêreld ingestuur is.
Miskien het ek dit gemis, maar kan iemand my vertel waarom en deur wie hierdie video maande ná sy ontstaan, “uitgereik” is? Waarom was die werkers in die video nie getraumatiseerd nie totdat hulle opgesweep is?
Myns insiens – en soos al die ander mense van ons land het ek ook ’n mening – was die grootste ramp in hierdie hele onsmaaklikheid die hantering daarvan.
Ek gaan akkoord met talle briefskrywers dat daar daagliks meer rassistiese en onmenslike dinge in hierdie land gebeur, maar die oomblik wat dit wit teenoor swart is, is daar oproer.
Dit is verstommend dat mense soos Hanneli Barnard van Welkom, in By van 8 Maart, deur die De la Rey-lied en die optrede van die video se vier jong witmans, ’n uitspraak in die media maak dat die Boerevolk haar naar maak.
En dat die betrokke mans harde misdadigers en rassiste is en in die tronk hoort.
Hierdie soort uitsprake is nie net onnadenkend, kortsigtig en ongebalanseerd nie, maar sal verseker daartoe bydra dat die haat wat reeds tussen mense bestaan, met rasse skrede groei.
Sy behoort die Boerevolk, wie dit ook al is, en die vier mans om verskoning te vra, tensy sy soos talle ander “Afrikaners” wat op hierdie video-wa geklim het, ’n verskuilde agenda het.
’n Agenda wat hulle uiteindelik sonder medaljes sal inhaal en hulle mede-verantwoordelik sal maak vir dié kloof, veral tussen swart en wit.
Maar ook tussen wit en wit, wat nooit herstel sal word nie. ’n Reënboognasie sal ons nooit word nie – die haat wat opgewerk en opgedam is, spoel steeds oor, terwyl ondeurdagte optredes en besluite nuwe haat in die hand werk.

Org van Loggerenberg
rinabike@telkomsa.net

Teken in op Volksblad