Misdaad
Mar 04 2008 09:25:10:123PM  - (SA)  


Een van die probleme met die gewelddadige huisrooftogte die afgelope paar jaar in Pretoria en Johannesburg is die profiel van die slagoffers.
Huisrowers teiken slagoffers uit die middelklas en hoër middelklas omdat hulle in daardie huise waarskynlik meer kontant, rekenaars, juwele, selfone en voertuie kan steel.
Omdat die middel- en hoër middelklas die mense is wat belangrike besluite oor byvoorbeeld beleggings neem en omdat hulle skaars vaardighede het wat onontbeerlik is vir die ekonomie, het aanvalle op die groep ’n baie groter impak op die samelewing as wat geweldsmisdaad in die arm buurte het.
Geen mens wat by sy verstand is sal ooit probeer argumenteer dat ’n lid van die middelklas se lewe meer werd is as ’n werklose in ’n informele buurt nie. Voor God en voor die Grondwet is hulle gelyk.
Middelklas-mense is wel die ganse wat die goue eiers vir die ekonomie lê. En dus indirek ook tot voordeel van die armes. Hul vaardighede is in aanvraag in die buiteland.
Dit is Beeld se lesers.
Teenoor al die ander misdade in die land, is aanvalle teen die middelklas dalk in Suid-Afrikaanse terme “relatief min”.
Volgens Sakelui teen Misdaad is daar daagliks 40 kapings, 37 huisrooftogte en 27 rowe by sakepersele landwyd, waarvan die meeste waarskynlik in Gauteng.
Maar elkeen van daardie aanvalle het ’n pynlike groot impak op die psige van die land.
So was dit inderdaad weer vandeesweek met die aanval op ’n sakevrou van Johannesburg, haar argitek-man en hul tienerseun in die gegoede buurt Parktown-Noord in die hartjie van Johannesburg se noordelike voorstede.
Daardie aanval het ’n baie skadelike impak op ’n groot klomp beleggers, top-sakelui en professionele mense. Die hele ouergemeenskap van een van die land se groot private skole is geruk deur die gru-moord in hul midde.
Dis die soort mense wat kan bekostig om te emigreer – en hul skaars vaardighede saam met hulle te vat – tot nadeel van die hele ekonomie.
Die regering moet besef dat hierdie verskynsel spesiale aandag en spesiale oplossings verg.
Hierdie groep mense hoor nie dat die regering enigsins besorg is oor die vlaag van geweld wat hulle teiken nie. In die regering se reaksie word alle misdaad maar net saamgegooi in landwye totale syfers. In ander samelewings het die middel- en hoër middelklas gewoonlik heelwat meer politieke mag en koop dus hul veiligheid. In Suid-Afrika lyk dit of die regering en selfs baie kommentators onbewus is van die gevaar wat die “relatief min” voorvalle vir die hele ekonomie inhou.


Teken in op Beeld
Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi