| |
Ek is 24 jaar oud en ja, ek hardloop weg uit SA
Mar 07 2008 05:04:50:690PM - (SA)
EK was nogal verbaas om Johan Terblanche se kommentaar op Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon/werk/studeer, te lees (“Ons is sat van al jul briewe van oorsee”).
Ek is nie ’n emigrant nie. Ek is hier in Nederland vir ’n jaar om te au pair en oorweeg dit nog sterk om te bly. Mag ek nie die ooglopende verskille tussen ’n veilige en ’n onveilige land raaksien en dit noem nie? Maak dit Terblanche jaloers om te hoor ander lande is eintlik normaal?
Ek is 24 jaar oud. Ek het geen plek “leeggesuig”, “die meeste van sy inwoners vir eeue lank vertrap” of “enigiemand beskou as ’n goedkoop werkersmag wat vir tien ure per dag sal kap en grawe vir ’n appel en ’n ei nie”.
Ja, ek hardloop weg, ek hardloop weg van iets wat my moontlik gaan doodmaak of verkrag. Dis tog redelik om vir so iets weg te hardloop, of dink jy nie so nie?
Ek hardloop ook weg van my vriende, my familie, my kultuur, my mense (swart en wit). En as ek noem dat ek hulle of biltong, blatjang en melktert mis, sal ek dit enige tyd doen sonder om toestemming of om verskoning te vra, al gaan dit jou grensloos irriteer.
Suid-Afrikaners in die buiteland sal aanhou skryf soos hulle lus- en lekkerkry, net soos jy nou so “genoop was” om gif na al die “verbitterde briefskrywers” te spoeg.
Om in Suid-Afrika te woon, is soos om in ’n gewelddadige verhouding vasgekeer te wees. Jy bly fokus op hoe wonderlik dit kan wees en sien dus nie hoe vernietigend dit eintlik is nie. Dit verg juis ’n regdenkende persoon om uit sy ontkenning te ontsnap en vorentoe te beweeg. Dit maak nie saak hoe ongemaklik, ongerieflik en hartseer daardie stap is nie.
Natuurlik het ek respek vir mense wat in hul harte glo dinge gaan regkom. Ek kan net nie onvoorwaardelik glo daar gaan ’n wonderwerk gebeur nie. En ek is seker miljoene ander voel ook so, of dit nou emigrante is of nie.
Ons gun jó? ’n beter lewe. Hoekom gun jy dit nie vir ons nie? (Ek skaar my maar by die emigrante aangesien jy my gerieflikheidshalwe in elk geval een gemaak het.)
Net nou die dag het iemand my gevra: “As ek in Suid-Afrika gaan vakansie hou en ek is op pad huis toe ná ’n aandjie uit, moet ek banger wees vir wilde diere of vir mense?”
Jy neem my seker kwalik dat my antwoord niks met die Groot Vyf te doen gehad het nie.
TANYA VAN BUUREN
“ Om in Suid-Afrika te woon, is soos om in ’n gewelddadige verhouding vasgekeer te wees . . . ”
Teken in op Beeld
Kry Beeld op jou Facebook-profiel
Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi
|
|