| |
Ál meer dwelms kom uit SA
Mar 09 2008 08:54:27:277PM - (SA)
Waldimar Pelser
Lagos. – Al hoe meer daggadampe op die strate van Dublin en Londen het ’n Suid-Afrikaanse geur.
Die paspoorte van die wêreld se heroïensmokkelaars spog boonop steeds met veral twee lande se stempels daarin: Suid-Afrika en Nigerië.
Só sê die internasionale narkotikabeheerraad (INCB) in sy jongste verslag, waarin Afrika opnuut ontpop as ’n spil in internasionale dwelmsmokkel-netwerke, met Suid-Afrika en Nigerië as twee van Afrika se groot probleemstate.
Nie net word state soos Suid-Afrika, Nigerië en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) toenemend gebruik as deurgangsroetes vir die bestanddele vir chemiese dwelms nie, maar die gebruik van kokaïen sowel as dagga was die laaste jaar in Afrika-state hoog teenoor 2006, sê die INCB.
Dit is terwyl dagga-gebruik elders ter wêreld “stabiliseer”.
Volgens die INCB word tussen 200 en 300 ton kokaïen elke jaar na Europa gesmokkel en word “al hoe meer” hiervan deur Wes-Afrika vervoer, waar dit herverpak en soms in die mae van menslike muile na Europese lughawens soos Londen, Parys en Madrid gedra word.
“Daar is kommer dat Wes-Afrikalande nie toegerus is om dié ontwikkeling te keer nie,” het die INCB in sy 2007-jaarverslag gesê, wat verlede week bekend gestel is.
Die kokaïen eindig egter nie net op die spieëlfragmente van Europese dwelmslawe nie: kokaïen-gebruik in Afrika neem veral in Suider- en Wes-Afrika toe, waaronder Suid-Afrika, en sowat ’n miljoen Afrikane het in 2005 hul neuse op dié dodelike wyse gepoeier.
Ook dagga-gebruik neem toe in Afrika, waar Suid-Afrika weer as een van die vasteland se groot produsente en uitvoerders uitblink.
“Daar word op ’n toenemende hoeveelheid Suid-Afrikaanse dagga beslag gelê in Europese lande, veral Ierland en Brittanje,” sê die INCB.
’n Klopjag laas jaar in Augustus in Ierland, toe meer as ’n ton Suid-Afrikaanse dagga in ’n vraghouer in Ierland gevind is, word uitgesonder.
Saam met Nigerië, Ghana, Ivoorkus, Kenia, Ethiopië en Tanzanië is Suid-Afrika ook steeds ’n “sleutel-deurgangspunt” vir heroïen.
Suid-Afrika se dagga-status in die INCB-verslag oorskadu die bydrae wat Suid-Afrika wel lewer tot die stryd teen dwelmmisbruik, deur onder meer wetstoepassers uit Mosambiek, Swaziland en Botswana op te lei en Nigeriese snuffelhonde touwys te maak.
Teken in op Beeld
Kry Beeld op jou Facebook-profiel
Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi
|
|