| |
Boer, seun vermoor: Lyke dán uitgeken
Mar 09 2008 06:19:05:913PM - (SA)
Die familie van ’n melkboer van Bronkhorstspruit en sy kleinseun, wat verlede week vermoor is, sal vandag hul lyke gaan uitken.
Eers dán sal die oorledenes se name bekend gemaak kan word, het kapt. Simon Mashiloane, polisiewoordvoerder, gesê.
Die boer, wie se ouderdom nog nie bevestig is nie, en sy kleinseun (17) is vermoedelik Donderdag deur ’n plaaswerker in hul huis op die plaas Zusterstroom oorval.
Die boer is glo met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en die seun verwurg.
Die plaaswerker het daarna glo die twee lyke na twee verskillende gebiede, weg van die plaashuis, gesleep en die lyke met gras en blare bedek.
Polisiebeamptes het Vrydag op die lyke afgekom nadat die bure, wat onraad vermoed het, hulle in kennis gestel het.
Die plaaswerker, wat glo ook die huis leeggedra het, is in hegtenis geneem.
Hy het glo jare lank vir die boer gewerk. Dié man sal vandeesweek in die landdroshof in Bronkhorstspruit verskyn. – Hilda Fourie
Teken in op Beeld
Kry Beeld op jou Facebook-profiel
Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi
|
|