Bejaarde sterf in hospitaal ná aanval
Mar 09 2008 11:52:04:240PM  - (SA)  
Henry Cloete


“HOEKOM moes dít gebeur het? Sy was oud en het ’n goeie lewe gehad, maar hoekom moes sy só gegaan het?”
Só het mev. Suzette van Tonder, dogter van mev. Anna Viljoen (86), gister in trane gesê oor die dood van haar ma.
Viljoen is Saterdagoggend in die Bloemfontein-Medi-Clinic oorlede nadat sy verlede Saterdag op haar dogter en skoonseun se plaas buite Vryburg wreed aangeval, vermoedelik verkrag en met ’n skerp voorwerp “inwendig beseer” is.
Volksblad het Vrydag berig dat Viljoen se toestand gestabiliseer het. Volgens mev. Amanda Appelgryn, hospitaalwoordvoerder, het haar toestand egter Vrydagmiddag begin verswak en is sy Saterdag omstreeks 11:00 dood weens haar veelvuldige beserings.
Van Tonder sê die situasie is vir haar en haar familie nog “verskriklik erg”.
“Ek is baie bitter. Sy hoef nie só te gegaan het nie. Ons het die naweek na die plaas teruggekeer om op te ruim en vir die eerste keer gesien hoe die huis deur die aanvaller omgekrap is. En die bloed in die matte van my ma se kamer . . . bloed was mos nie uit nie.”
Sy het vroeër aan Volksblad gesê die 20-jarige verdagte, wat vir haar man, HP, gewerk en Woensdag op Stella in hegtenis geneem is, het met sy inhegtenisneming erken hy het dié dade gepleeg, maar beweer hy was “getoor” toe hy dit gedoen het.
Viljoen kon glo, voordat sy haar bewussyn verloor het, vertel dat dié man die kluis se sleutels geëis het voordat hy haar wreed aangeval het.
Hy het ook in ’n stadium hoenderborsies uit die vrieskas gehaal en dit vir homself gaargemaak. Dié het egter ongeëet gebly toe die huishulp en ander mense op die plaas die huis betree en hom betrap het.
Hy het egter ontsnap.
Suzette sê die gemeenskap van die Vryburg-distrik is ongelooflik ondersteunend.
“As ek sê dat meer as 1 000 mense my seker al gebel het, oordryf ek nie. Die mense ondersteun ons baie. Maar die gemeenskap is baie, baie omgekrap oor die voorval.”
Sy sê finale begrafnisreëlings is nog nie getref nie.
“ ’n Lykskouing moet nou gehou word, omdat dit nou moord is en nie poging tot moord nie. Maar sy sal veras word en die roudiens sal waarskynlik volgende Saterdag op Stella gehou word.”
Mnr. Van Tonder het vroeër aan Volksblad gesê sy skoonma was “ ’n baie sterk mens”.
“Sy het nog elke Sondag voor ete vir my vertel van die week se nuus wat sy op die radio gehoor het,” het hy met ironie in sy stem vertel.
Volgens kapt. Charlize van der Linden, polisiewoordvoerder, staan die 20-jarige verdagte nou tereg op aanklagte van huisbraak met die opset om te verkrag en verkragting, asook moord.
Hy sal op 14 Maart in die Vryburgse streekhof op dié aanklagte verskyn.
Teken in op Volksblad