AGS-hoës bekommerd oor die land se toekoms
Mar 01 2008 01:21:31:903AM  - (SA)  
Neels Jackson - njackson@beeld.com

In ’n verklaring wat aan ’n klagstaat herinner, het die leiers van die grootste Pinksterkerk in Suid-Afrika die regering beskuldig van die wanbestuur van ’n wye reeks brandende kwessies.
Die vier ampsdraers van die Apostoliese Geloofsending (AGS) – dr. Isak Burger, dr. Japie Lapoorta, past. George Mahlobo en past. Peter de Witt – spreek daarmee saam hul ernstige kommer uit oor die lot van armes en die toekomstige ontwikkeling van Suid-Afrika.
Die kwessies wat in die verklaring genoem word, is:
·  Die geloofwaardigheid van die polisie in die stryd teen misdaad;
·  Die “ontstellende korrupsie en misdadigheid” binne die polisie en regeringsdepartemente en die geldskandale rondom parlementslede;
·  Aanklagte teen mnr. Jackie Selebi, nasionale polisiekommissaris, en mnr. Jacob Zuma, moontlik die volgende president van die land;
·  Die onbekwaamheid van die regering deurdat dit nie ag geslaan het op waarskuwings oor ’n elektrisiteitstekort nie;
·  Die onvermoë van die regering om die land se padnetwerk in stand te hou;
·  Die mislukte diplomasie in Zimbabwe wat tot ’n stroom vlugtelinge na Suid-Afrika gelei het;
·  Die regering se treurige reaksie op MIV en vigs;
·  Die agteruitgang van gesondheidsdienste in dorpe en stede reg oor die land;
·  Die oogluikende ernstige verdeeldheid in die ANC wat niks goeds inhou vir stabiele regering in die toekoms nie; en
·  Die onvermoë van senior regeringslui om te erken dat hulle dit nie kon regkry om dienslewering aan armes te versnel nie.
Al dié kwessies dompel die land in ’n spiraal van negatiwiteit, sodat jong en professionele mense die land verlaat.
Die AGS vra die regering om ernstige en betekenisvolle veranderinge te maak en na die land se mense te luister. Die kerk sê ook die regering sal beter samewerking van die land se burgers kry as hy meer bereid is om sy foute te erken, hom daarvan weerhou om comrades te beskerm wat beskuldig word of skuldig bevind is aan korrupsie of bedrog en as die regering ophou om sondebokke te soek.


Teken in op Beeld
Kry Beeld op jou Facebook-profiel

Kry nuus op jou selfoon by www.beeld.mobi