| |
Orania is ons enigste hoop
deur Attie Schutte
"Enige poging tot suksesvolle Afrikanerpolitiek wat nie ons demografiese verspreiding aanspreek nie, sal onsuksesvol wees. Hoe lank voordat die onafwendbare sigbaar raak? As al daardie vermoorde Afrikaners vandag 'n keuse kon maak wetende wat kom, wat sou hulle kies? Wanneer jou vrou in die aangesig van haar kinders verkrag word, is die BMW, die nuwe sitkamerstel en al die geld in die wêreld dit werd?"
Ek het die afgelope Vrydagaand by my oom en sy gesin gaan aandete eet. So wie gee 'n hel om? Wel die kos gaan jou nie interesseer nie maar my opmerkings dalk wel want hy verteenwoordig die gemiddelde welgestelde Afrikanersakeman.
Hy het 'n pragtige huis, luukse bakkie en sy eie besigheid wat van niks af opgebou is, een waarop enige sakeman kan trots wees, maar is dit volhoubaar? Die antwoord is nee! Die huidige bestel is nie volhoubaar nie om 'n verskeidenheid van redes waarvan ek slegs een hier wil toelig, nl. lewensruimte.
Daar bestaan buite Orania geen Afrikanerlewensruimte nie, alhoewel sekere woonbuurtes en dalk 'n paar klein dorpies nog as Afrikaans beskryf kan word, is die vinnig veranderende demografie besig om hulle snel in te haal. Die demografiese werklikhede waarmee my oom dus sy opgang vanaf nederige begin in 'n Sunnysidewoonstel boontoe gemaak het sonder universiteitsopleiding of enige geldelike steun is dus nie vir sy kind beskore nie. Indien ek enige Afrikanersakeman moet vertel dat hy sy kinders en kleinkinders selfsugtiglik te na kom sal die argument sterk na vore tree dat hy hulle alles bied wat hy nooit gehad het nie, die beste universiteit en geld. Geld: die Afrikaner se grootste obsessie; nie eers sy liefde vir sy taal ewenaar dit nie. Enige volk wat 20% van sy mense so vinnig verloor aan ander lande moet sy bestaanskrisis raaksien. Die bestaanskrissis waarmee Afrikaners sit, is dat onerkende klassisme 'n baie groter rol in sy vernietiging speel as wat hy besef. Rassisme het darem voordele ingehou. Eerstens het dit sy etniese voortbestaan geregverdig en verseker a.g.v. sy eie demografiese verspreiding en tweedens die regverdiging van sy magsbehoud ter verkryging van goedkoop arbeid.
Lewensruimte - en daarmee impliseer ek direk om 'n etniese meerderheid in 'n gebied te wees - kan nie polities afgedwing word nie; bestaande Afrikaanse woonbuurtes word bedien deur ten minste drie keer soveel swart arbeiders as die Afrikaners wat daar woon en daarmee sluit ek besigheid en industrie uit. Selfs indien die uitsondering van 'n besigheid met slegs Afrikaanse werknemers bestaan, word die sekondêre dienste deur ander volke verrig. Afgesien van die Oraniabeweging het geen ander regse leiers of organisasie enige geloofwaardigheid wat die beroep op lewensruimte doen nie aangesien hulle nie self bereid is om sonder daardie goedkoop arbeid te lewe nie.
En soos Mnr. Vaughn dit so mooi opgesom het, is enige aanspraak op ʼn afsonderlike... wel basies enigiets, 'n magsvergryp i.t.v. ons getalle.
Die uiteinde van die saak is dat wanneer my oom se kinders hulle universiteitsopleiding voltooi het, hulle nog vir 'n paar jaar in hul gekose beroepsrigting ondervinding sal opdoen en heel moontlik trou. Maar as die kleinkinders hul opwagting maak, kom daar in sy kinders 'n langertermynuitkyk en die besluit word dan gemaak. Kanada/Nieu-Seeland/Australië/Engeland/Amerika en sy kleinkinders sal hom kultureel nie verstaan nie en hul kinders sal ons Engelse noem.
Die huidige emigrasietendens gaan onverpoos voortgaan totdat daardie selfgesentreerde verbruikerskultuur, die fokus van “ek” weer na 'n fokus van “ons” toe verskuif. Die emigrasie sal voortduur solank daar geen alternatief bestaan nie en uiteindelik daar onder 'n miljoen oorbly wat te arm of ongeletterd is om enige poging aan te wend daartoe. Enige politieke poging om 'n bestaande Afrikaanse buurt of dorp in 'n etniese gebied te omskep sal deur Afrikaners self verwerp word nog voordat enige ander volk protes kan aanteken. Die Afrikanerdrang na vryheid is nie oorskat nie maar sy absolute afhanklikheid van ander volke se arbeid is totaal onderskat (en dis die ware rede vir sy rassisme - afhanklikheid).
Die huidige suksesvolle Afrikanersakemanne het geen belang in Orania nie. Die rede is voor die hand liggend: dit sou ʼn finansiële inkorting en 'n verlaging van hul lewenstandaard wees, of so dink hulle in elk geval.
Maar kom ons veronderstel vir een denkbeeldige oomblik dat die sprong van “ek” na “ons” wel plaasvind en ʼn 100 000 Afrikanersakemanne ondersteun Orania en maak n bydrae van 'n R1000 per maand (wat vir baie kleingeld is). Dit kom neer op ʼn astronomiese R100 miljoen per maand wat aangewend word vir infrastruktuur en ekonomiese ontwikkeling (ekonomiese aansporings moet geskep word; dit bestaan nêrens vanself nie). Binne vier jaar het die Afrikaner iets wat hy nog nooit gehad het nie, 'n groot welvarende gebied waarbinne hy 'n volstrekte meerderheid vorm. Afrikanersakemanne word deur Oranialugdiens na hul sakebelange in die res van die land en selfs oorsee gevlieg, party verkies om eerder hul gesinne daar te laat woon en vlieg tweeweekliks na hul werk in Johannesburg. Die Oraniametropolisie is klein maar hoogs opgelei en goed toegerus. My oom se kinders het nou ʼn keuse!
Visie en voorbeeld moet politieke mandaat voorafgaan. Enige poging tot suksesvolle Afrikanerpolitiek wat nie ons demografiese verspreiding aanspreek nie, sal onsuksesvol wees. Hoe lank voordat die onafwendbare sigbaar raak? As al daardie vermoorde Afrikaners vandag 'n keuse kon maak wetende wat kom, wat sou hulle kies? Wanneer jou vrou in die aangesig van haar kinders verkrag word, is die BMW, die nuwe sitkamerstel en al die geld in die wêreld dit werd?
http://www.praag.org/mambo/index.php?option=com_content&task=view&id=1567&Itemid=45
|
|