Kurrikulum 2005 misluk’
Mar 09 2008 11:52:48:943PM  - (SA)  
Alet Rademeyer

JOHANNESBURG. – Dis genoeg. Maak ’n einde aan die verwarring oor resultaatgerigte onderwys (RGO) wat jammerlik in Suid-Afrika misluk het.
Dít is die pleidooi van dr. William (Bill) Spady, ’n internasionaal bekende op die gebied van RGO, wat langer as 30 jaar aan die spits van belangrike pogings in Noord-Amerika, Suid-Afrika en Australië was om die visie in opvoedkundige stelsels te verbreed.
In ’n artikel van Spady wat vandeesweek in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer word, maak hy geen geheim van die mislukking van dié stelsel in die land nie.
Spady het in 1997 die eerste keer in Suid-Afrika aangekom en ’n landwye lesingtoer oor RGO onderneem. Spady, wat as die “vader van RGO” voorgestel is, het weke lank van plek tot plek duisende opvoedkundiges in alle dele van die land toegespreek.
In die artikel sê hy dit is jammer dat die boodskap wat hy in 1997 aan onderwysers oor RGO oorgedra het, soos hy dit leer ken het, baie min of geen invloed op die Suid-Afrikaanse opvoedkundige hervormingsbeleid gehad het nie.
Spady verwys in die artikel na van die beginsels van RGO. Dit is prestasie-kriteria wat doeltreffendheid en vaardighede uitspel wat kinders moet bemeester; leerlinge wat nie gepenaliseer word vir foute terwyl hulle in die leerproses is nie; en leerlinge wat teen ’n pas vorder wat by hul leervermoë aansluit.
Volgens Spady was daar groot teenstrydighede tussen die regering se Kurrikulum 2005-strategieë en die fundamentele beginsels van egte RGO. Hy meen as hulle dit herken het en gekies het om Kurrikulum 2005 meer in ooreenstemming met RGO te bring, dit die hervormingsproses kon versterk.
“Omdat dit nie gebeur het nie, het die inwerkingstelling van RGO nooit die volwassenheid en doeltreffendheid bereik van die meer volledig-ontwikkelde RGO-pogings in Amerika en Australië nie.”
Volgens Spady het Kurrikulum 2005 nie ’n groot paradigma-skuif in opvoedkundige denke en praktyk verteenwoordig nie.
Hy meen eerder deur die wyse waar-op kenmerke van tradisionele RGO in die kurrikulum ingebed is en voortgegaan is met gr.12- en jaarlikse eksamineringstelsels, het die regering almal in die land beperk tot tradisionele denkstyle oor leer, kurrikulum, prestasie, assessering en kwalifikasies.
Spady sê met ’n dekade van verwarring oor RGO agter die rug, sou hy sy Suid-Afrikaanse kollegas aanmoedig om nie meer na RGO in enige vorm te verwys nie.
“Dit het nooit in 1997 bestaan nie en sedertdien ál hoe meer van die toneel af verdwyn.
“Die werklike vraagstuk wat die land in die gesig staar, is om ’n opvoedkundige stelsel te mobiliseer wat betroubaar is en ’n betekenisvolle verskil in die lewe van alle Suid-Afrikaanse leerlinge sal maak.”
In sy artikel verwys Spady onder meer daarna dat hy besef het die klok, skedules en almanak was die hoofbepalers in die onderwysstelsels in Noord-Amerika en elders in die “moderne” wêreld.
Dit was ’n beperkende faktor vir alle leerlinge en onderwysers het ook in die “tydsgebonde” stelsel versink.
Die stelsel was voordelig vir vinnige leerlinge, terwyl die stadiges onder enorme druk geplaas is.
Volgens Spady vereis RGO buigsame voorwaardes, terwyl tydgebaseerde stelsels onbuigsame eise stel.
Dit is onder meer iets wat Suid-Afrikaanse beleidmakers nie besef het toe hulle geesdriftig besluit het RGO moet die toekomstige onderwysstelsel wees nie.
Teken in op Volksblad